Oor ons

Pappa Beer, Mamma Beer en twee Kleinbeertjies 


Mamma Beer:

Net ek, Esther. Mens, vrou, eggenote, mamma, kind, suster, vriendin.  Ek is getroud met Johan en ons het twee seuns, en ek het ook twee liefdogters, twee skoonseuns, een liefkleindogter en nog een wat op pad is.

Ek is mal oor die reen en oor donderweer en weerlig ('n liefde wat deur ons ouers aan ons oorgedra is). Ook die sonskyn, LENTE, somer, die natuur en die see.  Ek lees BAIE.

Kleure fasineer my, en nou verstaan ek, want ek is 'n visuele leerder, word gestimuleer deur wat ek sien rondom my.

Maar meeste van alles:  ek is lief vir my God, die skepper van die hele heelal, wat alles mooi en goed geskape het.  Hy het alles en sal alles doen om ons terug te wen en het daarom aan die KRUIS gesterf maar het ook weer OPGESTAAN.  Hy leef en kom binnekort terug om almal te kon haal wat Hom lief het en Hom dien.

Groot Kleinbeer
Simeon,gebore 2004, is 'n nuuskierige vraer van baie en interessante vra maar ook stil met tye.  Hy hou daarvan om alles wat hy leer en ervaar te speel en te teken.

Hy is 'n visuele leerder, grotendeels 'n Denneboompie wat graag binnenshuis is.  hy hou van kreatiewe kook, maak konfyte en allerhande nageregte en soppe wat die res van die gesin dan moet uittoets.

Wanneer ons buite is moet ons 'n tentjie bou oor die wasgoeddraad en stories daar lees of waar hy onder die bome speel.

He is mal oor water en modder. En nou ook die duine by die see.


Klein Kleinbeer
Joshua, gebore 4 jaar en 1 dag na sy broer, is 'n lewenslustige klein seuntjie wat lief is vir sy Roetjie (my Rootjie het sy hempie aan) en ook Piglet, Tigger,  Eyore, en Pooh.

Hy hou van pret, maak graag grappies, terg sy boetie, maar doen ook alles na in baie spel en ontdekking van die lewe.

Hy speel graag buite, kan homself besig hou en speel.  Hy hou nie van slaap nie en sal baie keer nog vir 'n uur na die ligte af is vir homself stories vertel, terwyl sy broer al slaap.