Thursday, 10 February 2011

Ons eerste Lapbook!!

‘n Tyd gelede het ek twee plakkeralbums gekoop “Open your Shop – Toy Shop” en “- Pet Shop”.  Die idee was om dit vir ‘n goeie doel te gebruik en nie net die plakkers te plak en die res te mors nie.  Ek wou graag ‘n goeie leerervaring met hulle skep.


Nadat ons ‘n paar troeteldierwinkels besoek het om Simeon se hamsters te verkoop het ek die idee gekry om ‘n lapbook met die “Pet Shop” album te skep – die doel waarvoor dit tog gemaak is, is “open your shop”.  Op hierdie wyse kon ons ‘n praktiese ervaring – besoeke aan die troeteldierwinkels – omskep in verdere leergeleenthede – skep ‘n eie troeteldierwinkel.

Ek wou al vir ‘n hele tydjie ‘n lapbook maak saam met Simeon, maar ek het nie mooi geweet hoe nie.  Ek wou so graag ‘n lapbook sien, maar waar?  Die internet het dit net “nie vir my gedoen nie”.   En so leer ek iets oor myself, ek is ‘n visuele leerder, wat ook my tassin wil gebruik (tactile learner).   Ek wou ‘n lapbook sien en daaraan vat, dit oop maak, dit ervaar, dit omdraai… en miskien ook nog ruik en proe?  ;-)  In November 2010 het ons die Homeschool Expo in Johannesburg bygewoon en daar het ek die geleentheid gekry om dit te doen.  Lapbooks het ‘n werklikheid vir my geword.

Selfs voor dit het ek baie webwerwe besoek en goeie raad gekry.  Veral op www.squidoo.com/lapbooking is daar raad oor hoe om dit te doen EN hoe om dit nie te doen nie.

Ek het baie idees vir lapbooks gehad maar niks wou werk en in plek val nie.  Maar die “Open Your Shop” boekies was vir my ‘n baie goeie idee vir ‘n maklike eerste lapbook.  En so kon ek dit positief bekendstel aan my visuele leerder, Simeon.

Raad wat vir my baie sin maak, is om met klein boekies (genaamd minibooks) te begin en nie met die hele lapbook nie.

Al die minibookies reeds in geplak

Ons het dus eerste met die “troeteldierwinkel” self begin.  Ek het baie daaroor gedink en wou hê dit moet soos ‘n regte winkel lyk, ‘n bietjie drie-dimensioneel.  Soos die winkels wat ons besoek het.  Heelwat nagte se beplanning en oordink oor hoe die miniboekie nou eintlik moet lyk, het eers verby gegaan voor ons begin het.

Ons het die kartonvoorblad van die plakkeralbum gebruik as die winkelfront.  Simeon het sy winkel sy eie naam gegee en ook sommer beveel ek moet skryf “Geen skelms toegelaat”.  Wel, dis sy boek, wat kon ek anders doen?


Die miniboekie bestaan uit ‘n karton wat in drie dele verdeel is en die twee buitenste derdes word bo-oor mekaar na binne gevou.  Die middelste deel se agterkant word dus op die lapbook vasgeplak.

Die voorblad maak na links oop

Maak die regterkant oop

Die plakkeralbum het ‘n plakbladsy wat ‘n buite area is.  In die Noorde van ons stad is daar ‘n troeteldierwinkel wat ook ‘n groot buite area het.  ‘n Goeie idee was dus om deure na “buite” te skep op die een bladsy.  Ek het die ekstra karton na binne gevou en aan die linkerkant ‘n stuk in geplak vir die ander deur.

 Die “buite area”

Simeon het vir rakke gevra en self besluit wat daar uitgestal moes word.  Ek het dit op die een deur geteken omdat daar nie nog plek was nie.


Daar was drie winkelbladsye in die plakkeralbum en dus was een stuk karton nog oop.  Simeon het sommer sy eie hokke gemaak en diere in gesit.  By die katte is bakke met katsand en ‘n waterbak.  Die slang se hok het ‘n sleutelgat sodat niemand dit kan oop maak nie.  Die visse se vistenk het ‘n waterfilter en waterpyp net soos die vistenk in “Nemo”.  Die voël sit op ‘n stokkie en daar is kos en water in sy hok.



Dit het egter baie “leeg” en sonder doel gevoel.  Daarom het ek al die diere neer geskryf in potlood.  Soos Simeon leer lees en skryf sal hy dit dan oorskryf in pen.  
 

Met die ander plakkers het ek ook die volgende geskep: 


  • ‘n wiskunde miniboekie (optelsomme met prentjies, nie syfers nie)
  • Pasmaats
  • ‘n Miniboekie met “Watter een pas nie?”
  • Woorde (Die diere is op die een kant en die woorde op die ander kant.  Die woorde is nie in dieselfde volgorde nie, so Simeon moet dit opsoek.)

Agter op die lapbook het ek ‘n koevert gemaak waarin A5 papiere is waarop Simeon vir my ook ‘n troeteldierwinkel geteken en geplak het.

Simeon is baie trots op sy eie lapbook Troeteldierwinkel.  En wou sommer onmiddelik begin met die speelgoedwinkel – om 16:45 in die middag.

 ‘n trotse Simeon met sy eerste lapbook

Ek is baie bly dat dit goed verloop het, Simeon positief gemaak het vir hierdie metode en ek hoop dat dit ander mense ook sal oortuig dat ons wel dinge op ons unschool manier leer.

1 comment: