Wednesday, 16 September 2009

Liewe Koninkje

'n Briefie aan my klein grootseun. Ek weet jy kan nie lees nie daarom skryf ek hier wat ek more vir jou gaan sê.

Mamma is baie jammer oor vannaand. Jy het soveel vrae in daardie mooi blonde koppie van jou. Jy leef eintlik jou hele lewe in vrae, soos dit vir my voel. Alles waaroor jy wil praat is in vraagvorm.

Soms maak dit Mamma baie moeg. Al daardie vrae wat enige tyd, heeltyd, tydens ete, kar ry, bad, dvd kyk, lees, slaap, orals gevra word. En dan wys ek dit baie keer. Jammer sommer daaroor ook.

Maar veral jammer oor vannaand. Dat ek jou so moes stil maak sodat jy en boetie kan slaap. Die dag was lank en baie lekker. Nou moet jy slaap. Bly Stil!!!

Daardie drie vrae vannaand was so interessant (en kort gevra, nie 2,5 meter lank nie). En die antwoorde baie lank. En meer ingewikkeld as wat ek nou kan antwoord. Bo my vuurmaak plek.

So, more oggend sal ons die video oor die walvisse kyk sodat ons kan sien hoekom 'n walvis 'n gat het waardeur hy water kan spuit. En sommer ook die mooi boekie oor die walvisse lees (wat ek met graagte vir jou in Afrikaans sal vertaal).

En dan sommer na jou ander twee vrae ook kyk.

Dankie my seun dat jy vrae vra. Mamman wil jou help om altyd nuuskierig te bly. Om vrae te vra en te bly vra.

Ek het jou lief. Draai maar jou lyfie terug na my. Kom lê hier in my arms. Kom ek gee jou 'n drukkie.

Lekker slaap.

Mamma

No comments: