Tuesday, 29 December 2009

Lees...Lees...Lees

Leendert van Oostrum het die volgende gesê oor wat ouers vir hul kinders kan doen in plaas van 'n formele leerplan.

gewilde boeke in ons huis
Die ouer lees 'n minimum van 1 uur per dag aan die kinders voor. Dit is nou bo en behalwe dit wat 'n kind kan lees. Die foto wys ouma wat vir die seuns se niggie voorlees. En ek hang saam aan haar lippe al is dit jare gelede wat sy so vir ons aan die kombuistafel of by die bed voor gelees het.
ouma en Mila
Die lekker ding is dat die ouer of voorleser in hierdie tyd self kies wat gelees gaan word. Die kind mag voorstelle gee, maar dit is die ouer se keuse.
70% van wat gelees word is stories, kortverhale, gedigte en liedjies.
Dit bou verbeelding = skeppende denke = probleemoplossing wat nodig is eendag in die wetenskap, sakewêreld of vir intrepreneurskap.
30% biografië - lewensverhale van mense, reisverhale, natuur, ens
Belangrike instrumente hier is 'n aardbol (volgens Simeon 'n aardebol) en 'n atlas. So kan almal saam kyk waar die plekke is. Dit help met geskiedenis en aardrykskunde.
Lees 70% in die moedertaal - dis eintlik die taal waaraan die kind veral blootgestel is in die baarmoeder, die taal wat die ma met die kind praat.
30% sal dan alle ander tale wees.
Wat doen die kinders in hierdie tyd?
Hulle mag nie stil sit nie, hulle hoef nie stil te sit nie. Laat hulle teken - wat gebeur in die storie of iets anders. Hulle kan beweeg, swaai, rol, bollemakiesie slaan. Of dalk soos Simeon kaartjies speel.
Hulle mag net nie praat of raas nie. 'n Groot probleem met Simeon wat eintlik pratende speel.
Daarna vertel die kind die verhaal terug. Maar dit is nie 'n toets of 'n begripstoets. Dis 'n informele vertelling van een kind oor wat in die storie gebeur het. In sy eie woorde.
Dit ontwikkel auditiewe persepsie. Brei woordeskat uit. Dis belangrik vir denke. Formulering van gedagtes. Die kind leer wat belangrik is, wat is sekondêr. En wat is die belangrike feite in die storie. Hulle leer logiese volgorde.
Moenie die kind reg help nie. Hy gee dit weer in sy eie woorde. Daarna kan 'n ander kind dalk net byvoeg of sy idees gee. Maar hy mag nie die eerste verteller kritiseer of reg help nie. Die volgende dag is dit weer 'n ander kind se beurt om eerste te vertel.
Wel, ek is so bly ek het nou hierdie neergeskryf hier. So het ek my eie gedagtes geformuleer en myself ook weer gehelp met beplanning vir die jaar wat voorlê.
Ek sien nou baie uit na homeschooling in 2010!!!
Nog te meer omdat ek 'n boek uit die Pestalozzi Trust se biblioteek geleen het wat my baie gehelp het oor wat om te doen en hoe. Maar later daaroor.

1 comment:

  1. Dankie dat jy nog meer vertel het,ek het nog steeds nodig om dit WEER te hoor van tyd tot tyd. Ek voel hoe nader ek aan die Here leer hoe meer leer Hy my om ook al meer op Hom te vertrou in ALLES!Ook met die kinders se sogenaamde opleiding! En hoe meer op Hom vertrou,hoe meer sien ek dat my kinders self verantwoordelikheid neem vir wat hulle nodig het om te leer. En dit is dikwels nie op die "skool" manier nie!

    ReplyDelete