Tuesday, 29 December 2009

Nog werkswinkel feite

Desember luiheid...
Sjoe, ek het heerlik lui geraak en voel daardie diep Desember gevoel. G'n niks lus vir niks nie. Behalwe lees oor homeschool. Dit bly interessant.

Die werkswinkel
Wat vir my die lekkerste was van die werkswinkel was dat die van Oostrums nie 'n formele kurrikulum volg nie. Die enigste twee formele vakke wat hulle dogters het is musiek en wiskunde. En selfs daarin is dit informeel. Een van hul dogters het vir 2 jaar geen wiskunde gedoen nie. Net gespeel, fiets gery, skaatsplank geleer, geklim en klouter, ens. Na twee jaar het sy weg gespring en alles binne 'n kort tyd weer ingehaal.

Nadat Leendert die bogenoemde aan baie belangrike mense in die opvoeding vertel het, het 'n hoë wiskundige gesê dat sy wel besig was met wiskunde. Die praktiese sy daarvan. Die ruimtelike orientasie.

Dis die een rede waarom ons sal hoor mense sê hulle is nie wiskundig aangelê nie. Almal leer deur eers iets te leer en daarna prakties uit te werk. Ons sien dit baie goed in babas. Hulle leer iets en dan lyk dit of daar niks gebeur nie. Die leerkurwe word gevolg deur 'n afplatting of assimulasie. Verwerking van dit wat geleer is. Groei en konsolidasie. Wat gebeur in die skool...? Daar is nie tyd om "niks" te doen nie. Die werk gaan aan. Jy het miskien 'n paar maande of dalk 'n twee jaar verwerkingsperiode gehad. En toe jy wil voort gaan, was die klas net te ver voor.

In 'n klaskamer kan onderwysers nie die 30 of 40 kinders se verskillende leerkurwes in ag neem nie. En dink net, vir elke "vak" het mens nog verskillene leerkurwes ook.

Die lekker van homeschool is dat ouers hierdie leerkurwes van hulle kinders in ag kan neem.

Hierdie informele aanslag van die van Oostrums het my baie goed gepas. So kon Pappa Johan ook sien dat dit nie so erg is om nie 'n formele program te volg nie.

Die groot konsolidasie fase in kinders:
Dit vind plaas hier van 11 - 15 jaar. Ons noem dit puberteit. Kinders het baie dinge uit te sorteer. Hulle het tyd nodig, om hul eie dinge te doen, te dagdroom en in eie geselskap deur te bring. Geen gejaag nie.

As hul uit die fase kom, neem hul gewoonlik verantwoordelikheid vir hul eie onderrig.

1 comment:

  1. Dankie vir die 11 - 15 jaar konsolidasie herinnering! Miskien moet ek dit bo my rekenaar opskryf om myself te herinner. Geniet die ruskans en leeskans die vakansie.

    ReplyDelete