Tuesday, 06 July 2010

Psalm 24

Hierdie volgende storie moet ek net deel vanaand. Daar is soveel wat ek wil blog maar niks wil vlot nie. Die tandemuis se vele besoeke, verjaarsdae, spontane leer, ens. Maar toe ek hierdie skielik weer onthou, kon ek net weer glimlag.


Elke aand voor die kinders gaan slaap hou ons eers huisgodsdiens. Ek lees uit die Kinderbybel en Johan lees 'n deel uit die Bybel. Ons lees dikwels een Bybelgedeelte - veral 'n Psalm - oor en oor indien dit van toepassing in ons lewens is. So het Simeon 'n paar jaar gelede Psalm 23 geleer - deurdat ons vir 'n week elke aan dit gelees het.

Ons het nou besluit om elke aand 'n Psalm te lees. Daarna kry elkeen 'n kans om te bid. Die kinders hoor ons bid en ons kan hulle lei in hul gebed.

Laasweek wou Simeon weer teken maar ons papier raak min. Ek ontdek toe 'n boks met A5 advertensies van ons besigheid wat al verouderd is en gee dit aan hom. Hy hou nie van die klein papiertjies nie, maar ek wys hom toe hoe hy 'n boekie kan maak. En daar maak hy sy eie "Bybel".


Met huisgodsdiens wil hy toe vir ons lees en "lees" toe Psalm 23 heeltemaal op sy eie. En verklaar ook sommer dat hy die volgende aand Psalm 24 sal lees - wat hy nie ken nie. Maar ons laat dit daar en begin bid.

Die volgende aand "lees" hy Psalm "24" - Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. Ek besef dis Psalm 91, een van die Psalms wat ons graag herhaal as ons God vra vir beskerming. En so saam saam lees ons die hele Psalm oor.

Weereens besef ek net daar hoe ons kinders leer sonder dat ons dit besef. Die herhaling het dit in sy geheue vas begin lê. En ek gaan hom Psalm 24 ook leer, dit is net so mooi soos Psalm 23.

5 comments:

  1. Ag dis pragtig, Ester. Wonderlik om die Woord so te kan vaslê.

    ReplyDelete
  2. Ek wens net dit is altyd so maklik, Marelize. Daar gaan 'n hele hoop papiere al weer grond toe, my haardroeer word 'n geweer, kinders wat stry... Maar die klein bietjies help tog en gaan lê in hul harte. Esther

    ReplyDelete
  3. Bietjie hier kom kuier en lekker gelees

    ReplyDelete
  4. Dit is wonderlik! Dit maak my sommer opgewonde om sulke dinge te hoor!

    ReplyDelete
  5. Ai dit is so pragtig... en so word mens ook wyser met wat God in ons lewe beteken en van ons verwag word.

    ReplyDelete