Friday, 08 October 2010

Lente aanplantings

Ons het baie lanklaas geskryf oor wat ons doen vir die tuisonderrig. Ons volg geen formele program nie en enige informele skoling wat deur Simeon herken kan word, word summier deur hom geboikot.

Ek het 'n paar dae gelede 'n rekenaarspeletjie gekoop van Oom Karolus en Lente (Maranataland) - In die Begin. Dit gaan oor die skepping, maar het ook allerhande oefeninge in soos "hoeveel wolkies is daar?" en wat is 1+2 en ook "plaas die getalle in volgorde van klein na groot". Hierdeur doen ons dus nou heelwat informele werk wat aanvaarbaar is.

Die beste deel van die jaar het aangebreek, die lente, wat hier in die binneland te gou somer geword het. Dit het ons die geleentheid gegee om plantjies te plant en saad te saai.


Ons het die avokaopeer by vriende in Witrivier gekry. Dit was groot en baie lekker. En dit pit, 'n glaspotjie, water en lig het die res gedoen. Dis 'n lekker sigbare manier vir kinders om te sien hoe die wortels en daarna die stammetjie en blare begin groei. Ek weet net nog glad nie waar ons dit gaan plant nie en of 'n pot 'n goeie idee sal wees nie.

Ek het ook 'n grenadella plant gekoop en saam met Simeon geplant. Ons grond is effens kleierig, maar swart en ryk. Daar is ook baie erdwurms in. Ek keer gereeld een om. Simeon wil graag 'n boer word vandat hy klein is, maar gril vir alle wurms, goggas, spinnekoppe en reptiele. Hy vertel dan almal hy gaan met diere boer. Ek hoop deur hom meer by die tuinwerk te betrek ek darem 'n positiewe invloed sal he.


Ek het gekies om die sonneblomsade eerder in 'n bord te laat ontkiem sodat die kinders kon sien wat gebeur. Onder in is twee papierborde en bo-op koerantpapier (ons het nie rolle watte gehad nie). Nadat die wortels goed gevorm het, het ek grond by gegooi.



Die plantjies is langs die grenadella geplant. Ek sal later 'n foto plaas.

Hierdie viooljie blare het wortels gemaak. So leer hulle dat party plante anders kan voortplant. Ek het 1 jaar en 3 maande nadat ons ingetrek het die vermiste sakke met kompos en potgrond gekry. More kan ons die plantjies in potte plant. Hulle gaan baie mooi pers blomme - en hopelik een witte - maak.

No comments:

Post a Comment