Thursday, 20 January 2011

Poësie

Die maklikste van alles wat Charlotte Mason aanbeveel is vir my poësie. Ek het eers gedink dit gaan moeilik wees. Maar ek het besef ons doen dit al reeds.

Elke aand net voor slaaptyd lees ek 'n paar gediggies vir die kinders. Daar is een vir Simeon en een vir Joshua wat ons elke aand lees. "In die land van Marmelade" (Simeon) en "Katjie, katjie Nelletjie" (Joshua). En een dag uit die bloute sê Simeon sommer die gediggies self op. Eers die "Katjie" gediggie en later "In die land van..." En nou is dit 'n speletjie: Ek sê 'n paar woorde en dan sê Simeon 'n paar. Groot pret.

Ek gebruik "Kleuter-Verseboek" van D.J Opperman gedatteer 1957. Sommer vir interessantheid - Die boek het behoort aan L. Els met die datum Mei 1959. Ons het die boek gekoop in Mei 2009. 50 jaar later.

Ek gee hiermee die woorde van "In die Land van Marmelade". Dis so oulik en het baie geleentheid geskep vir gesprekke oor allerhande goed soos lande, jakkalsdrade, ens, wat ons stadskind nie ken nie.

In Die Land Van Marmelade
In die land van Marmelade,
Woon 'n seker Jan van Stade'
En hy gee so baie rade-
Hy't selfs raad teen jeremiade.

In die land van Marmelade,
Toegespan met jakkalsdrade,
Leef hul net van sjokolade,
Help-my-druppels en genade.

In die land van Marmelade,
Ly die mense baie skade-
Dis deur al die goeie rade
Van oom Jannie en sy gade!

A.D. Keet

En hierdie gediggie het aanleiding gegee tot Paddington stories. Ek moes maande lank, en ek bedoel maande lank, elke aand 'n Paddington storie vertel. Ek het maar opgemaak en bygevoeg en gedink. Meestal het Simeon ook in die stories verskyn as maat, buurman, helper ens. Dis eers met kwaai woorde wat ek dit kon stop sit, aangesien die stories begin inmeng het met slaaptyd.

Ek sal hierdie manier van poësie leer beslis aanbeveel aangesien dit maklik is. 'n Volgende blog sal vertel van die lang gedig wat Simeon so vinnig kon opsê.

No comments:

Post a Comment