Monday, 28 February 2011

Natuurstudie


Idees wat om met die kinders te doen, kan op die snaakste tye kom.  Soos een oggend toe ek kon ontspan in die kar omdat ek nie hoef te bestuur nie,  sien ek langs die pad ‘n miernes.  Dit is teen ‘n lamppaal opgebou.  Onmiddelik het ek gedink aan die moontlikheid om dit saam met die kinders te gaan bekyk, en sommer ‘n Natuurstudie-les daarvan te maak.

Dit het die week egter gereën en ander dinge het voor geval, maar elke keer wanneer ons daar verby ry, dink ek daaraan.

Meer as ‘n week later, op ‘n bewolkte dag, was ‘n wandeling na daardie miernes net die ding om die twee kinders uit die huis te kry.  Ek het twee skoon tekenboeke vir ons ingepak, waterbottels en ‘n verversinkie.


Tot my aanvanklike ontsteltenis was die nes erg beskadig deur ‘n grassnyers van die stadsraad.  Eers later het ek besef dat dit tot ons voordeel was, ons kon die nes beter waarneem en ook oor ‘n tydperk daarna waarneem hoe die miere die nes kan herstel.


Ek het ook ‘n stukkie afgebreek en ons kon die termiete (met wit lywe en rooi koppe) binne sien beweeg.  Indien die nes heel was sou dit vir my baie moeiliker gewees het om die nes te verniel.

Inkopielys:  ‘n Insekte-gids vir Suid Afrika / Gauteng

Daarna het ons na die spruit geloop om te kyk of daar iets te sien is.  Op die brug het Simeon vir my die neste in die riete gewys en ons het sommer net daar gaan sit, tot die verbasing seker van die verbygaande motoriste.  “Dis hoe regte tuisonderrig lyk!” wou ek vir hulle sê.


Ons het neste geteken en gekyk na die voëls wat hulle maak.  Daar was drie verskillende vinke besig in die verskillende neste.  EK het nie 'n verkyker en voëlgids saam geneem nie, dus kon ons nie almal positief identifiseer nie.


Simeon het met groot konsentrasie die nes geteken wat aan riete was op ‘n ‘eilandjie’ reg voor hom.  Die volgende dag was daar ‘n groot  wolkbreuk en het die water blykbaar so 15 sentimeter onder die brug deur gespoel.  Die “spruit” het 25 meter breed geloop en die nes en riete het weggespoel.


Simeon het ook vrae gevra oor die beton pyp (stormwater) en ek het verduidelik hoe dit werk.  Ons het ook gepraat oor:
  • besoedeling in spruite en mense wat sommer net afval daar stort
  • die geroeste blikkies en eiendomsagentplakaat wat veroorsaak dat die water suur word
  • die doel van riete in ‘n rivier – om water se vloei stadiger te maak en dit dien as watersuiweraars
  • vleilande – daar is een net stroomop van ons.


Later is ons na die anderkant van die brug, waar ons twee Witkeelswaels (white-throated swallow) gesien het. Die jongetjie het op ‘n takkie gesit in ‘n struik, terwyl die ouer onder die brug deur gevlieg het en soms kom sit het. Dan is ons bekyk om te sien of ons nie slegte intensies het met die kleintjie nie.

Ons kon dit maklik herken aangesien die swaeltjies ‘n wit onderkant het met ‘n swart borsbandjie.



By die huis het ons in die voëlgidse na verskillende vinkneste gekyk en besluit die een wat ons geteken het was die Kaapse Wewer se nes.  Volgende keer neem ek die voëlboek en ‘n verkyker saam.  Ek het ook besluit om Simeon aan te moedig om voëls te kyk en om vir hom ‘n lys te kry om alles wat hy gesien het aan te teken.  So kry ek twee maats om mee saam voëls te kyk – een van my baie afgeskeepte stokperdjies.

Na ‘n paar dae het ons weer na die miershoop gaan kyk.  Die nes was amper herstel.  Daar is ook ‘n ander mier nes aan die “voet” van die termiete se nes, ‘n simbiotiese verhouding?

Die nes word herstel.
Die nes het 'n breë gang aan die suide kant.
Dit lyk of mens jou hand daarin kan druk.

Twee mierneste by mekaar, die een van van die rysmiere
 links bo en die swart miere se nes regs in die middel.

1 comment: