Saturday, 10 May 2014

Speelklei leerpret

'n Tyd gelede het ek hierdie resep vir speelklei  geplaas en dit is steeds 'n wenner in ons huis.  Met ons verhuising van Pretoria na Somerset West het ek 'n groot hoeveelheid gemaak om die seuns in die kar mee besig te hou.  Joshua, wat saam met my gery het, het langer as 'n uur daarmee gespeel voordat hy iets anders wou hê.



Nuwe klei word met groot opgewondenheid begroet en hou hulle soms vir twee dae besig sonder om vir ander aktiwiteite te vra.


'n Tyd gelede het dit my gehelp om Joshua kleure te leer.  Hy leer kinesties - veral met fisiese aanraking.   Simeon, as visuele leerder, het reeds op 2 jaar 3 maande sy kleure geken (ook geleer deur speelklei te meng), maar Joshua kon dit net nie "sien" nie.   Hierdie keer het dit egter net gekliek en hy het nie weer daarmee gesukkel nie.

 Meng die kleure van die reënboog.

Joshua het daarop aangedring om ook bruin by die reënboog te voeg en van die tyd af het hy die kleur onthou en reg gebruik.



Vrugte om die kleure vas te lê.

Rooi - aarbei
Blou - bloubessies
Geel - piesang
Pers - druiwe
Groen - vy
Oranje - lemoen

Letters uitgedruk en woorde gevorm - Tigger bekyk sy Afrikaanse naam

Simeon maak Pinocchio

 Die Titanic tref 'n ysberg

Hier is die resep weer:

1 1/2 k meel
1/4 koppie sout
2 teelepels Kremetart (Cream of Tartar)
1 k water
4 eetlepels olyfolie
1 teelepel voedselkleursel

  1. Meng die water, olyfolie en voedselkleursel in 'n pot.
  2. Sif die meel, sout en kremetart en voeg by die vloeistof.
  3. Verhit op lae hitte en roer aanhoudend totdat 'n bal gevorm word.  Wees versigtig dat dit nie aanbrand nie.
  4. Haal bal uit pot en laat dit afkoel op 'n skoon oppervlak.  Knie dit vir 'n rukkie totdat dit glad voel.
  • Ek gebruik minder sout en meer olyfolie; dit is sagter op die handjies en op my houttafel. 
  • Hierdie resep hou beter in die binneland as by die kus.
  • My seuns hou daarvan om daarmee te speel terwyl dit nog warm is.

Bêre in 'n lugdigte houer of ziploc sakkies.

No comments:

Post a Comment