Monday, 21 April 2014

Ons skoolbord: die strand / ons klaskamer: die wêreld

Die lewe is 'n leerskool.  Leergeleenthede kom so dikwels wanneer ons dit nie verwag nie.  Ons het nie ons gewone program gevolg nie, omdat ouma kom kuier het. 

Die gesprek tussen Mamma en Ouma toe ons haar gaan aflaai het, het egter weer 'n sessie van een miljoen vrae aan die gang gesit.  Ons het oor die Pistorius verhoor gepraat en oor Nelson Mandela en natuurlik het klein muisies groot ore.

So, Simeon wou weet hoe oud Nelson Mandela was toe hy uit die tronk gekom het.  Hoekom is hy vir mense 'n held?  Waar is hy aangehou?  Wat het hulle die hele dag gedoen?  As dit hoogwater is, is daar dan net 'n klein stukkie van die eiland oor?   Waarom het hulle sy liggaam aan die gang gehou nadat hy dood is?  Hoe doen mens dit?  Hoe beheer die brein alles?  Hoekom hou al die organe op met werk as die brein dood is? 

Leerarea: Geskiedenis en Biologie

Ons is daarna strand toe.  Die vrae het aanhoudend op my gereën en soms is daar nie eens tyd vir behoorlik antwoord voordat die volgende een kom nie.

Toe sy voete die sand tref vra hy:  "Hoekom is mamma altyd so skoon en droog as ons van die strand af kom en ons is so nat en vuil?"  Heelwat later het ek eers regtig sy vraag bevredigend geantwoord.

  

Die sand en korrelgrootte het hom begin gefasineer. Ons het gepraat oor waaruit die sand op die strand bestaan: skulpe en klippe en dinge uit die see wat fyngemaal word deur die golwe en dan rol en rol tot hul klein en fyn is.

Leerarea:  Aardrykskunde

Ja, ja, ek weet.  Ek kom nog uit die ou bedeling van skoolvakke en omdat ons unschool, het die (nie so) nuwe benaming van vakke nog nooit inslag by my gevind nie.



Simeon het probeer om in my voetspore te loop.  Hy moes groot treë neem en wou daarom weet waarom 'n grootmens se treë groter is as 'n kind s'n.  Wel, ons bene is langer en daarom is die voetspore verder uitmekaar.  Maar om dit beter te verstaan het ek dit geteken.  So, dit vorm 'n driehoek met dalk dieselfde hoek bo, maar die sye is langer.  Daarom is die onderste sy langer.

Leerarea:  Wiskunde



Eers weer lekker speel, grawe en ontdek.  So proe hy aan die seewater in die gat.  Dis sout en bietjie soet.  "Mamma, hoekom is die seewater hier nie so sout soos in die see nie?"  My antwoord: "Smaak verskil?", want ons dek my swakste vak, waarin ek nou die meeste moet leer.  En ek is so dankbaar dat tuisonderwys 'n tweede geleentheid vir leer aan my bied.

Leerarea: o.a. Wetenskap



Nou begin ons op die strand skryf.  En hy sien dat 'n 'N' en 'Z' dieselde is, hang net af van watter kant jy dit bekyk.  Ons skryf en bekyk ook weer die letters b,d,p en q. 

Nou moes ek net begin boekhou van wat ons alles bespreek, bevestig en leer; en die beste manier is: skryf op die strand met 'n grafie en neem fotos daarvan.

Leerarea: Skrif en Lees



Nog 'n vroeëre gesprek met ouma word onthou en ons kyk na die wolke.  Daardie kant is daar baie wolke en hierdie kant is baie blou lug.  Die wind waai dit van  'n  suidelike rigting hiernatoe.  Wanneer gaan dit nou hier reën en wanneer daar?

En met die beduie klap hy daardie regterkantste man amper tot in die see toe hy verby ons loop.  Gelukkig het die man 'n goeie humorsin.

 Meer blou lug, maar die aandag word weer afgelei deur die strand.

Leerarea:  Aardrykskunde


"Mamma, word dit nou weer volmaan?" En "hoekom sien ons nou net die helfte van die maan?"  Dis hier wat die massiewe strand as skoolbord so ideaal is, want ons teken en ons praat en ek gaan teken daar doer anderkant die son, en die strale.  En ek maak die maan se een kant donker.

Ons tekenwerk en gesprek trek die aandag van twee jong mans wat toe ook 'n gesprek daaroor het - ek weet net nie in watter taal dit was nie.

Leerarea: Sterrekunde


En hierdie deel van die dag word afgesluit met 'n verduideliking van die bord en die doel daarvan.  So leer hy wat om te doen wanner die seestroom hom intrek.  Met sy grafie teken hy dit nou eers in die sand.  En die koue seetroom van Antartika en die warn seetroom van die ewenaar word ook bespreek.

Leerarea:  Aardrykskunde

'n Baie suksesvolle dag van tuisonderwys vir ons.  En weereens 'n bewys dat kinders baie leer in tye wat hulle nie formeel onderrig kry nie.


No comments:

Post a Comment