Thursday, 01 April 2010

Herinneringe aan Vader en Oupa




Dis 3 jaar gelede wat ons afskeid geneem het van vader en oupa. Dit was 'n baie mooi afskeid en vir my bring hierdie dae nie baie hartseer nie. Op 31 Maart 2007 was al ons kinders en my ma langs my pa se hospitaalbed. Ons is toegelaat om die hele dag daar te bly en teen ongeveer 17:00 was my broer van Stellenbosch en my suster en gesin van Graaff-Reinet ook daar.
Ons het Bybel gelees, Psalms gesing en gebid. Ek kan nou so glimlag oor my pa wat nie kon saam sing nie, maar sy voet het beweeg onder die laken.
Die een ding wat ons altyd sal bybly van my pa was dat hy ritme gehou het met sy voet - kom van die trompet, tromboon en skuiftrompet speel dae. Ook dat hy kon harmoniseer, het nooit in die kerk die gewone wysie van 'n Psalm of Skrifberyming gesing nie. So mooi.
Teen 19:00 was ons almal weg en die volgende oggend so teen 4:00 het hy gesterf. En net voor 6 het 'ons' gesin - ma en 4 volwasse kinders - om die eetkamertafel gesit, gesels en vir mekaar gesê hoe spesiaal dit was.

Sondagoggend 1 April 2007.

Hy kon gaan want ons was almal daar. En in my hart hoop ek (Hebr 11:1) dat ons eendag almal saam met hom by God mag wees.

So 6 weke voor my pa se dood het God my voorberei. Nie soos ek dit wou hê nie. Ek het heelwat boeke oor die dood en nadood gelees. Ook die boek "Leer Hom Loof/Prison to Praise". En ek het God geloof vir my pa se genesing van kanker - wat versprei het van sy prostaat in sy blaas en nou in sy niere. En so "by the way" vir indien hy sou sterf. En ek het nie besef dat juis daardie laaste aksie vir my SO sou voorberei op sy dood nie.
Ek het nie so baie gehuil nie, nie so baie getreur nie, was nie so baie hartseer nie. En so een of twee keer het ek dit gemis om so te kon treur. Maar in my was dit net nie. Maar ek het my pa net al hoe meer begin mis.

Vandag, toe ek my ken so op my 21 maande oue seuntjie, Joshua se kop laat rus, wou ek net huil. Sê, vra "Kom terug, Vader, asseblief?" Kom kyk hoe oulik is jou twee jongste kleinseuns. Kyk hoeveel het Joshua van ons. Hy sou hulle so geniet het. Maar ek weet, hy sal nie kom nie, want hy sal nie eens wil nie. Kom jul maar hierheen, sal hy sê.

En ja, Vader en Vader. My Vader - my God en my vader - my pa.
Dis steeds vir my vreemd dat vader so 'n formele aanspreekvorm kan wees. Vir my is dit vol liefde, so vol lewe en so mooi, trots, fier, regop, sterk. My ouers het die aanspreekvorm gekies omdat "Pa" in Fries (Friesland in Nederland van waar hy kom) iets soos "die ouballie" by ons is.

So Vader / Pa en Oupa, ek mis jou so. Ek wens jy was hier. Maar jy't ons voorgegaan. Ons kom ook na ons Hemelse Vader toe, saam met jou.

Dankie vir alles.

Esther, Johan, Simeon en Joshua

3 comments:

  1. Esther
    Ek weet so presies waarvan jy praat! Ek mis ook net my aardse vader meer en meer! Wil so graag vir hom sy kleinkinders wys, hom laat sien hoeveel van hom is in hulle! Maar ek glo hy sien dit vanuit 'n venster in die Hemel!
    Kosbaar dat jy jou herinneringe met ons deel!
    Geseende naweek vir jou!

    ReplyDelete
  2. Linnie, dankie, ek het gelees wat jy geskryf het oor jou ma se besoek. Ja, ek glo God het hom gesê van die baba wat sou kom en hy het seker eerste geweet.
    Esther

    ReplyDelete
  3. Esther,
    Ek is nog so bevoorreg. Maar skoonpa is nou al 11 jaar van ons weg, skielik met 'n hartaanval. En ek mis skoonpa, want ook hy sou sy kleinkinders, waarvan hy 3 nooit geken het nie, so geniet het...
    Wonderlike wete, ons sal weer sien.

    ReplyDelete