Showing posts with label opvoedkundige sielkundige. Show all posts
Showing posts with label opvoedkundige sielkundige. Show all posts

Monday, 07 September 2009

Wat 'n einde vir 'n dag!

Die dag het woes geeindig. Hufet was moeilik in die bed toe gaan proses. Later het ek hom maar bo-op my laat lê. Die gevolg: hy het opgegooi. Gelukkig net bo-op my en nie op die bed nie (HOE kan jy so sê sal 'n nie-ouer vra? Maklik. Ek bad eerder self as om die hele bed van voor af op te maak. En gelukkig het ek nog dagklere aangehad.)
So, nadat ek gebad het en Hufet in die bad gesit is, kon ek ons klere en sy apiekombersie gou in die wasmasjien gooi. Vinnige siklus want Hufet slaap nie sonder daardie sagte kombersie se hoeke in sy hande nie. 'n Oorblyfsel van 6 maande se dagsorg. Daarna kombersie in die tuimeldroeer en e-posse lees met Hufet op my skoot.
Nou slaap hy gelukkig.
Die oorsaak van die probleem? Vermoedelik 'n te vol magie, te gou gaan slaap na ete, of 'n intoleransie vir yoghurt waarmee hy sy maaltyd wou afsluit omdat boeta so maak. Die laaste opsie sal ek maar eers toets deur tyd.

Unschool vir vandag

Ek en Koninkje het met kleure gespeel. Een probleem wat hy het is dat hy nog sy tekeninge net in een kleur doen. Monochroom. En dan word die hele prent bekrap. Die opvoedkundige sielkundige het daarmee 'n probleem gehad, maar ek nie baie nie. Ek het hom eenkeer mooi dop gehou toe hy by my sit en teken. Hy teken 'n baie mooi prent van huis en boom en nog goed. Maar dan word dit 'n storie wat hy verder vertel en hy begin krap die hele papier vol. Nie omdat hy nie van die prent hou nie, maar dit het vir hom alles betekenis, dis dan die storie wat verder gebeur. Aksie op papier.
Ek probeer hom nou partymaal stop. En ook aanmoedig om kleure te gebruik. Net baie versigtig sodat hy dit nie as kritiek ervaar en ophou teken nie.

Vandag het ek toe 'n karton opgevou vir 'n lapbook. En ons het die woord "kleure" geskryf en ingekleur. Daarna het ek dit uitgeknip en hulp gegee met die plak. More sal ons verder gaan. En as ek die kamera vind sal ons fotos plaas.

Wednesday, 02 September 2009

Spraakterapie vir Koninkje en Hufet

Ons het vandag Koninkje na die spraakterapeut toe geneem. Hulle het hom eers geëvalueer. Die vierde keer. Die eerste twee keer was die hospitaal. Daarna het hy 'n opvoedkundige sielkundige gesien. Dit het baie goed gegaan. Hy moet defnitief vir spraakterapie gaan en behoort binne die volgende twee weke te begin. Sjoe, dis al 'n lang pad wat ons stap tot hier. Nie gehelp deur 'n trekkery nie.

Wat baie positief was, is dat die spraakterapeut sê dat sy woordeskat baie goed is en hy is intelligent. Hy toets met sekere dinge tot op 7 jaar vlak. Dit laat my beter voel. Die opvoedkundige sielkundige het sommer gesê dat hy op 3.7 jaar toets terwyl hy daardie tyd 4.9 jaar oud was.

Dis die een baie groot rede waarom ek hom wil homeschool. Koninkje raak hiperaktief in situasies wat hy nie kan hanteer nie. En alle vreemde situasies het daarin geval terwyl hy by die kleuterskool was. Hy het baie beter opgetree vandag, wat beteken dat daar vordering is.
Ek is juis bang dat die onderwysers gaan aandring op ritelin as hy in die skool so sou optree.

En my kind is nie hiperaktief nie. Hy was 'n baie rustige baba, wat baie goed geslaap het. Hy kon maklik 'n slapie oorslaan, maar hy het baie goed geslaap en baie gereeld. Hy lyk nogal na 'n Denneboompie persoonlikheid. 'n Bom kan hom partymaal nie beweeg nie. Ek ken dit maar te goed in myself.

Hy moet op 9 Oktober vir 'n gehoortoets gaan en sal ook arbeidsterapie moet doen.

Ons het terselfdertyd ook maar gereel dat Hufet die universiteit se baba spraakkliniek kan bywoon. Hy word op 'n waglys geplaas en kan dalk eers volgende jaar 'n plek kry. Hy het ook spraakuitdagings. Hy is nou 14 maande en klank nog baie min. Na Koninkje weet ek dit is nie normaal nie. Hufet is op 34 weke gebore en het gesukkel om homself op 5.5 maande op sy arms op te lig. Hy loop steeds nie. Koninkje het op 16 maande begin loop. Gelukkig het die spraakterapeut aanbeveel dat ons dit doen.

Ek moet sê dat Hufet baie vordering gemaak het nadat ons in 'n huis ingetrek het wat trappe het. Hy klim dit baie gereeld op en wil nie hê mens moet hom op dra nie.