Sunday, 24 October 2010

Ladybird, ladybird


Ladybird, ladybird
fly away home
your house is on fire
your children all gone

Iets waarvan ek heeltemaal vergeet het met die uitstappie na Cullinan was die lieweheersbesie wat op ons piekniekkombers kom sit het. En ek kon dit vang om saam met Simeon te bekyk. Hy vra toe onmiddelik na die sagte binnevlerkies wat beskerm word deur die gekleure harde doppies. En ons praat oor ander kleure lieweheersbesies wat mens nog kry. Die een wat ons gevang het was wit.

Maar die eerste ding wat ek gesien het toe ons gestop het was die molshope. Ons het daarheen geloop en die grond weg geskep om die tonnel te bekyk. Dit loop skuins af na onder en is maar sowat 5cm in deursnee.
'n goue mol

Simeon wou weet hoe ver 'n mol kan grawe in een nag. By die huis het ons gaan Google en op Wikipedia gesien hulle kan in een nag sover as 6 km grawe. Ons het heelwat inligting gekry en is besig met 'n Power Point Presentation om al hierdie inligting te gebruik. Op hierdie manier kan ons papier spaar en die omgewing bewaar. Die PPS sal ek dan op Simeon se rekenaar laai sodat hy weer en weer daarna kan kyk.
Die een foto wat ek vergeet het om te neem is die van die molshope. Indien iemand vir my 'n mooi foto het van molshope in hulle tuin - of in 'n ander tuin - sal ek dit baie waardeer.




Friday, 08 October 2010

Lente aanplantings

Ons het baie lanklaas geskryf oor wat ons doen vir die tuisonderrig. Ons volg geen formele program nie en enige informele skoling wat deur Simeon herken kan word, word summier deur hom geboikot.

Ek het 'n paar dae gelede 'n rekenaarspeletjie gekoop van Oom Karolus en Lente (Maranataland) - In die Begin. Dit gaan oor die skepping, maar het ook allerhande oefeninge in soos "hoeveel wolkies is daar?" en wat is 1+2 en ook "plaas die getalle in volgorde van klein na groot". Hierdeur doen ons dus nou heelwat informele werk wat aanvaarbaar is.

Die beste deel van die jaar het aangebreek, die lente, wat hier in die binneland te gou somer geword het. Dit het ons die geleentheid gegee om plantjies te plant en saad te saai.


Ons het die avokaopeer by vriende in Witrivier gekry. Dit was groot en baie lekker. En dit pit, 'n glaspotjie, water en lig het die res gedoen. Dis 'n lekker sigbare manier vir kinders om te sien hoe die wortels en daarna die stammetjie en blare begin groei. Ek weet net nog glad nie waar ons dit gaan plant nie en of 'n pot 'n goeie idee sal wees nie.

Ek het ook 'n grenadella plant gekoop en saam met Simeon geplant. Ons grond is effens kleierig, maar swart en ryk. Daar is ook baie erdwurms in. Ek keer gereeld een om. Simeon wil graag 'n boer word vandat hy klein is, maar gril vir alle wurms, goggas, spinnekoppe en reptiele. Hy vertel dan almal hy gaan met diere boer. Ek hoop deur hom meer by die tuinwerk te betrek ek darem 'n positiewe invloed sal he.


Ek het gekies om die sonneblomsade eerder in 'n bord te laat ontkiem sodat die kinders kon sien wat gebeur. Onder in is twee papierborde en bo-op koerantpapier (ons het nie rolle watte gehad nie). Nadat die wortels goed gevorm het, het ek grond by gegooi.



Die plantjies is langs die grenadella geplant. Ek sal later 'n foto plaas.

Hierdie viooljie blare het wortels gemaak. So leer hulle dat party plante anders kan voortplant. Ek het 1 jaar en 3 maande nadat ons ingetrek het die vermiste sakke met kompos en potgrond gekry. More kan ons die plantjies in potte plant. Hulle gaan baie mooi pers blomme - en hopelik een witte - maak.

Friday, 01 October 2010

Speel-speel leer

Simeon geniet dit baie om uit te speel wat hy sien en hoor. Ons het onlangs "As ek maar 'n groen neus gehad het" gelees. En daar word die verf uit gehaal. Hoe lyk verskillende kleure neuse dan nou eintlik...

Ek's mal oor hierdie foto van Simeon.
Nog 'n bietjie verf aansit.
Ons het ook in die spieel gaan kyk hoe 'n groen en 'n pers neus sou lyk. Na die tyd was Simeon se besluit dat God ons tog "reg gemaak" het en dat ons nie iets hoef te doen om beter te lyk nie.


(die tandemuis moes intussen kom kuier)