Showing posts with label aanpassings. Show all posts
Showing posts with label aanpassings. Show all posts

Saturday, 10 October 2009

Maar by Juffrou Karin se skool...

Die nadeel daarvan dat 'n kind 'n ruk in die skool was, is dat daar vergelykings kom. Dis seker maar net deel van homeschooling. Veral as die skool tog lekker was.

Dankie Juffrou Karin vir alles wat jy vir Koninkje gedoen het. Jy was fantasties, en het defnitief meer gedoen as wat van jou verwag word vir hom.

So, soms hoor ek nogal die woorde: Maar by Juffrou Karin se skool.... Dan moet ek maar weet ons moet 'n aanpassing maak. Of sterk staan. Soos in die volgende:

DAE VAN DIE WEEK

Om tydsbesef by kinders aan te help is nogal 'n groot ding. "Oorgister" - a la Koninkje - en oormore is word nou net-net 'n werklikheid. Een ding wat help is om 'n week uit te beeld vir die kinders.
Die idee het ek van die skool af gekry maar toe ons begin homeschool het ek besluit om ons eie vorms en kleure by die dae te gebruik. Koninkje het saam met my gekies watter moet by watter dag kom. Ek wou hê hy moes dit sy eie maak en trots daarop voel.

Nog 'n rede was dat by die skool die week op 'n Maandag begin het en dat Sondag aangedui is deur 'n swart kruis. My probleem daarmee is dat as Chriten ek glo dat Sondag die eerste dag van die week is en dus ook so aan 'n kind geleer moet word. En ek sou nie graag 'n SWART kruis wou gebruik vir Sondag nie. Sondag is 'n feestelike dag en ek wou dit so aandui.

Dit het baie goed gegaan met die stelsel totdat ek in die hospitaal beland het. Koninkje het deurmekaar geraak en het die dae rond en bond aangedui. Sien, hy het die dae van die week onthou wat hy eerste geleer het, maar die kleure was nou nie meer waar hy dit onthou het nie.

Ek het besluit om maar terug te val op die skool se dae van die week, maar ons begin nou op 'n Sondag. Dit sal die kinders maar net moet leer. Juffrou Karin is gebel en gevra watter dag is watter kleur en vorm en nou lyk dit so:

Sondag Swart-op-wit Kruis
Maandag Blou Diamand
Dinsdag Rooi Sirkel
Woensdag Oranje Vierkant
Donderdag Geel Ovaal
Vrydag Groen Driehoek
Saterdag Pienk Reghoek

Op Vrydae sal ons dan maar sy groen skoolhempie weer aantrek omdat dit 'n groen dag is en Saterdag is 'n PIENK dag dan gaan ons nie skool toe nie.

Ek het die pyltjie geteken en Koninkje het dit ingekleur, daarna het ons dit uitgesny en met breë sellotape oorgeplak sodat dit nie skeur nie.