Showing posts with label breinscan. Show all posts
Showing posts with label breinscan. Show all posts

Friday, 30 July 2010

Simeon se spraakterapie.

Ek het Woensdag 'n afspraak gehad met Simeon se spraakterapie span. Professor van der Merwe my alles verduidelik. Dit was baie insiggewend en uiteindelik verstaan ek wat hulle gaan doen.

Simeon se probleem word spraak apraksie genoem. Die "a" beteken "kan nie" en die "praksie" is afgelei van "praxis" wat beteken "om te beplan".


Dit wil sê Simeon kan nie sy spraak, of te wel die klanke goed beplan nie. Daar is 'n probleem tussen die brein en die mond. Maar die ore weet baie goed dat dit nie reg is nie. Sekere kinders hou dan op praat, maar Simeon praat ten spyte daarvan. Ons ore van ons koppe af.
En dit beteken dat hy dus sukkel om sekere klanke konstant reg uit te spreek. Dit maak wel vir my sin aangesien Simeon nie as baba baie gebabbel het nie. Hy het dus nie deur die oefeninge, as baba, gegaan nie. En dit is eintlik net ek wat hom goed verstaan en daarna Johan. Dit frustreer ander mense om na hom te luister, want hulle kan hom nie volg nie.

Die probleem is 'n misterie in die veld van spraakterapie, en hulle weet nie presies wat die oorsaak daarvan is nie. Die probleem wys ook nie op 'n breinscan nie, daarom dat ons niks kon sien daarop nie.

Vir 'n hele paar sessies het die professor gemoeid met Simeon, die sessies by gewoon en selfs dit op band opgeneem. Hulle kon so na die tyd mooi luister om te bepaal watter klanke hoe uitgespreek word. Wat veral opvallend is met apraksie is dat klanke nie konstant verkeerd uitgespreek word nie, maar een keer reg en baie kere verkeerd, die een keer so en anderkeer anders.
Die program wat die professor opgestel het, en al van die 1980's gebruik, behels dat Simeon nie-woorde moet oefen. Vir my beteken dit dat hulle hom leer babbel sodat hy reg kan leer klanke maak. Hulle gebruik nie woorde nie, omdat die kind dan spesifieke woorde reg kan sê, maar dit nie in ander woorde kan gebruik nie.

So, as julle nog altyd gewonder het waarom kinders babbel, dis om daardie klanke reg te leer uitspreek. En hy luister die hele tyd, korrigeer homself en bly babbel tot die woorde reg uit kom.
En hier kom die belangrikheid daarvan in, dat Simeon nie skool toe moet gaan nie. Daar sal hulle die hele tyd hom wil dwing om reg te praat, woorde reg uit te spreek. En die praktyk het Professor van der Merwe al geleer dat sulke kinders dan nooit reg leer praat nie. Sy het spesifiek kinders gevolg in 'n kleuterskool wat voorheen by die Universiteit was en dit sien/hoor gebeur.
Ons mag daarom glad nie Simeon meer korrigeer nie, en ook nie woorde oefen nie. Ek kan ook nie help met 'n tuisprogram nie, omdat dit baie spesifiek is. Sy het die program aan my gewys en verduidelik. Die program gaan van vlak 1 tot 5, maklik tot moeilik in elke groep klanke wat Simeon moet aanleer. Hulle begin met die maklike klanke (vir Simeon) en gaan dan aan met al hoe moeiliker klanke. Die program word dus vir elke kind oor geskryf om spesifiek die kind se behoeftes aan te spreek.
Wat wel bemoedigend is, is dat dit gebeur dat die kind skielik ander klanke spontaan self reg uitspreek en dat spraakontwikkeling sommer dan baie vinnig verbeter, alhoewel ander klanke steeds geoefen sal moet word voordat dit reg kom. Daarom dat Simeon sommer in die vakansie sy eie naam kom sê: Si-mie-on.
Dit sal dalk selfs nodig wees dat ons die hele program weer van voor af moet doen wanneer Simeon 'n nuwe taal, selfs Engels, aanleer. Sodat hy weer klanke kan leer.
Ek is baie dankbaar dat God ons na die Universiteit van Pretoria gelei het. Dit is goed om te weet dat ons by die persoon uit gekom het wat spesialiseer in hierdie spraakprobleem. Spraakapraksie kom nie baie voor nie, en baie spraakterapeute kom nooit in hul hele loopbaan daarmee in aanraking nie.