Laasweek Woensdag was ons by 'n ondersteuningsgroep. Dit is naby Hartebeespoortdam op 'n plot gehou. Ver ry. Ons het baie lekker gekuier. Gesels oor baie dinge - wyd. Wat lekker is van die groep is dat ons dieselfde dink oor sekere aspekte van kinders groot maak, soos attachment parenting, borsvoeding, child-led weaning, unschooling, ens. Dit maak dit maklik.
Koninkje het dit ook baie geniet om met die maats te speel. Die kinders is almal Engels maar omdat Simeon vir 1.5 jaar lank in 'n kleuterskool was, kan hy redelik goed Engels praat en verstaan. Hufet het maar so om my voete gespeel. Maar die ander klein kindertjies moet oppas, hy is mal oor half geëete piesangs en yoghurt. Ek moet heeltyd wakker kyk.
Maar...
Ek sit nou al 'n week en broei oor 'n ding wat ek moet skryf. Hoe om dit te skryf... want dis nogal sensitief. So ek sal maar eers daaroor dink. Elke keer wat ek wil skryf wil dit net nie werk nie.
Van die ouers se sienings is nie dieselfde as myne (ons gesin s'n) nie. Dit het eintlik eers aan die lig gekom met laasweek se byeenkoms. Daar het van die ma's begin gesels oor buddisme en die een wil 'n buddistiese kamp gaan besoek vir twee weke.
Wat dit moeilik eers vir my gemaak het, is dat ons so lekker kan gesels en dinge deel. As dit net van my af gehang het sou dit nie baie saak gemaak het nie. Ek kan my lig laat skyn tussen die mense en ons kan oor ander dinge praat.
Maar ek moet dink aan my kinders. My ouers het uit hul vaderland getrek omdat die familie omstandighede nie positief was vir die grootmaak van christenkinders nie. Hulle wou ons nie blootstel aan die negatiewe van ateïsme nie. My kinders is nog klein en baie beïnvloedbaar op 5 en 1 jaar. Hulle het ook albei duidelike "callings" op hulle lewe. 'n Taak waarvoor hulle gebore is, geroep word. Ek moet hulle in die eise van hulle weg groot maak (Spreuke).
Hoe meer ek hier skryf hoe duideliker word dit tog vir my. Ons het 'n taak wat ons moet doen.
God se opdrag aan my word duideliker. Ek voel nou dat God sê ek moet rustig wees, Hy sal vir my na 'n groep lei. So dit is wat ek daaroor doen.
Dankie, die skryf hiervan het helderheid gebring. Dit is wat ek vir myself wil bereik met die blog. As ek later ander kan help, is dit goed.